Petrus Venter
Quick Facts
Biography
Ds. Petrus Johannes Venter (Pietersburg, Transvaal, 12 Desember 1913 – 1 Desember 1994) was tussen 1942 en 1979 predikant in ses gemeentes van die Gereformeerde Kerk, waarvan vyf in die destydse Transvaal was en een in Suid-Rhodesië.
Herkoms en opleiding
Venter se vader was werksaam op Pietersburg tydens sy geboorte, maar hy het grootgeword op Ermelo en ook daar sy skoolopleiding ontvang. Ná skool het hy sewe jaar lank studeer aan die destydse PUK vir CHO en die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk. In sy jong dae, het sy broers ná sy dood vertel, was hy betreklik robuus en 'n goeie sportman. Hy het waarskynlik 'n rekord gehou deurdat hy al sewe van sy studiejare vir Theos, die Puk se eerste rugbyspan, uitgedraf het. Soms het hy ook vir Wes-Transvaal gespeel. As stut, gewoonlik saam met sy broer Hertzog, was hy die gereelde doelskopper.
Gemeentebediening
Nadat hy afgestudeer het, is prop. Venter beroep na Matlabas, waar hy in die bediening bevestig is op 11 Julie 1942 deur ds. (later dr.) B.R. Kruger. Begin 1945 is hy na Piet Potgietersrust (in kombinasie met Koedoesrand en Magol), waarna hy agtereenvolgens Enkeldoorn, S.R., Alberton, Groblersdal en eindelik Rustenburg van 1957 tot sy 1979 bedien het, toe hy sy emeritaataanvaar.
In 1958 het ds. Venter as volg oor sy eerste jare in die bediening geskryf: "Tydens my bediening daar, was Matlabas, saam met die kerke wat nou die Klassis Waterberg vorm, nog deel van die ou Klassis Rustenburg. Tot Augustus 1949 was ek dus werksaam in die ressort van die Klassis Waterberg. Dit was die jare waarin daar 'n skaarste aan predikante was. Vir die grootste deel van my dienstyd daar, was daar in Klassis Waterberg net drie predikante, nl. ds. H.J. Venter in Waterberg, ds. W.F. Venter in Louis Trichardt en ek in die Potgietersrustse-kombinasie. Baie konsulentswerk was dus noodsaaklik by die veeleisende werk in die eie kerke. Matlabas, Magalakwin en Pietersburg moes soms vir etlike jare lank met konsulentsbediening tevrede wees."
Destyds was daar vinnige groei in die kerke waaraan ds. Venter verbonde was. In 1942 was die getal belydende lidmate in Matlabas 551, dooplidmate 455, totaal 1 006; in 1945 was die getalle 634, 569 en 1 203. In 1945 was die ooreenkomende getalle vir Potgietersrust 183, 159 en 342, vir Koedoesrand 197, 188 en 385, en vir Magol 200, 174 en 374. In 1949 weer: Potgietersrust 410, 305 en 715, Koedoesrand 201, 132 en 333, en Magol 294, 283 en 577. In 1945 was die getal belydende lidmate in die gekombineerde kerke 580; in 1949 was die getal 905. Hierdie groei het nog laat in die jare 50 voortgeduur, hoewel teen 'n stadiger tempo.
Die drie kerke was 'n uitgestrekte arbeidsveld; die verste lidmate van Magol het op Mahalapye in die Protektoraat gewoon, meer as 200 myl vanaf Potgietersrust. Ds. Venter skryf in 1958: "Die predikant was 'n reisiger. 'n Opmerking wat ds. H.J. Venter op 'n keer teenoor een van die destydse hoogleraars van die Teologiese Skool gemaak het, naamlik dat sy studeerplek agter die motorkar se stuurwiel is – wat vir die hooggeagte professor skokkend was! – was ook in my geval waar. Ja, hoe baie moes die gemeentes verduur as gevolg van preke waaraan geen grondige studie ten grondslag gelê het nie! Met my vertrek kon Potgietersrust selfstandig beroep, terwyl Koedoesrand en Magol 'n nuwe kombinasie aangegaan het. Opmerklik dat sowel Potgietersrust as die gekombineerde Koedoesrand-Magol prop. (nou ds.) G.B.S. Pasch beroep het, en albei was daarvan oortuig dat dié proponent die enigste was wat daar kon arbei!"
Breër betrokkenheid
Ds. Peet Venter is in sy bedieningsjare tot verskeie deputategroepe van meerdere vergaderings verkies. Tydens die eeufees van die Gereformeerde Kerk te Rustenburg het die grootste deel van die reëlings op hom afgekom, 'n taak wat hy met onderskeiding uitgevoer het.
Gesinslewe
Ds. Venter se eerste vrou, Babie Pasch, 'n dogter van ds. Hendrikus Pasch, het hom in 1952 ontval. Met die twee kinders, Anna Pasch (3) en Hendrik (amper 1), het ds. Venter 'n tyd lank self gesien kom klaar. Toe is hy getroud met Hanna Jansen van Rensburg ('n nooi Venter), wat die pastorie verryk het met 'n spannetjie van ses van haar eie kinders. Hulle sou eindelik 'n huwelik van oor die 25 jaar jaar hê. Ná haar oorlye aan die begin van die tagtigerjare was hy weer alleen, nou op sy oudag, maar vir 'n tweede maal sou hy met 'n nooi Venter trou, dié keer met Lena Wissing. Volgens oorlewering het hy gesê: As dit maar vyf goeie jare kan wees. Dit het elf geword.
Waardering
Dr. Neels Smit, indertyd van die Gereformeerde kerk Noordbrug, het in 1996 in ds. Venter se lewensberig in die Almanak van die GKSA geskryf: "Petrus Johannes Venter was 'n man wat nie die verlede eenkant toe gegooi het nie. Elke nuwe dag was vir hom 'n vollediger blik op sy geskiedenis en daarom was sy toekoms vir hom niks minder nie as 'n voltooide perspektief op God se genade in Jesus Christus. Hy kon kenmerkend boontoe staar met oë op skrefies getrek as hy iets uit een van sy baie gisters wou raakvat. Soms om 'n gedagte te motiveer; dikwels om 'n humorinsident op te rakel." Dr. Smit skryf "oom Peet", soos hy later in Rustenburg bekend was, "het altyd met groot deernis oor ander gepraat. Hy het 'n gawe gehad om die mooi onthou-dinge van ver terug met sigbare plesier voor jou te laat lewe. Hy was 'n mensmens. Daarom dat oudlidmate en kollegas ook graag na hom uitgereik het."
Bronne
- (af) Venter, H.J. 1959. Eeufeesgedenkalbum van die Gereformeerde kerke in die Klassis Waterberg 1859–1959. Potgietersrus: Deputaatskap vir die Gedenkalbum.
- (af) Van der Walt, dr. S.J. (voorsitter). 1995. Die almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1996. Potchefstroom: Administratiewe Buro.