Laurika du Plessis
Quick Facts
Biography
Laurika du Plessis (gebore Postma, Burgersdorp, Kaapkolonie, 17 Junie 1875 – Reddersburg, Oranje-Vrystaat, 4 Maart 1905) was ’n Gereformeerde onderwyseres en eerste eggenote van die teologiese professor dr. J.A. du Plessis.
Laurika was die vierde van die ses kinders uit ds. Dirk Postma, grondlegger van die Gereformeerde Kerk, se vyfde huwelik, op 20 Desember 1869 met Johanna Wilhelmina van Biljon (27 Mei 1854 – 12 Julie 1901). Haar sibbes was:
- Brechtje (26 Maart 1871 – 20 Maart 1937), eggenote van ds. J.A. (Koos) van Rooy.
- Helenius (11 Mei 1872 – 25 Mei 1874)
- Willem Postma (15 Maart 1874 – 13 Desember 1920), ook bekend as dr. O'kulis.
- Aletta Postma (9 November 1876– 6 November 1957), wat ná Laurika se dood met prof. Du Plessis getrou het.
- Maria (24 Junie 1881– 3 Augustus 1966), eggenote van Totius
Vanaf 1892 was in die distrik Middelburg, Kaap, 'n distrikskosskool op die plaas Wolwekop, die eiendom van oudl. H.J.J. Duvenage. Die hoofonderwyser was mnr. D.H. du Plessis. Hier het mej. Laurika Posta skoolgehou voor haar huwelik. Die skool het goewermentsondersteuning gekry en deeglike onderrig aan 53 kinders van die plaaslike Gereformeerde gemeente gebied in Hollands, Engels, Bybelse geskiedenis, die geskiedenis van Suid-Afrika en in die belydenisskrifte.
Vyf kinders is uit haar huwelik gebore, van wie twee bekende Potchefstroomse hoogleraars sou word: proff. Wicus en Hugo du Plessis. Die ander kinders was Louise, Koos en Willemina (Wilhelmina of Mien, 1899–1982). Sy het getrou met Françcois Jacobus du Toit. Hy was 'n seun van sen. F.J. du Toit (1871–1931). Nog 'n kind, ook Laurika (gebore op 20 Februarie), is op 18 Maart 1905 oorlede, twee weke ná haar moeder.
Bronne
- (af) Die Gereformeerde Vroueblad. 1959. Die Gereformeerde vrou 1859-1959. Potchefstroom: Potchefstroom Herald.