peoplepill id: johan-stemmet
JS
South Africa
11 views today
11 views this week
Johan Stemmet
Suid-Afrikaanse televisie aanbieder

Johan Stemmet

The basics

Quick Facts

Intro
Suid-Afrikaanse televisie aanbieder
Work field
Gender
Male
Place of birth
Springbok, South Africa
Age
72 years
The details (from wikipedia)

Biography

Johannes Carl (Johan) Stemmet (gebore op 9 Februarie 1952) is 'n Suid-Afrikaanse TV-aanbieder, regisseur, sanger en liedjieskrywer. Sedert hy die televisiewêreld in 1980 betree het, het hy reeds 54 000 uitsaaiminute vervaardig.

Vroeë jare

Stemmet is gebore op Springbok, Namakwaland, en spandeer sy kinderjare op die diamantmyndorpie Kleinsee aan die Weskus van Suid-Afrika waar sy pa 'n diamantprospekteerder was.

Johan begin as 11-jarige in 'n dansorkes speel. Hy word geskool in klassieke sowel as ligte musiek op klavier en leer homself kitaar en ander klawerinstrumente speel. Hy matrikuleer as koshuisleerling aan die Hoërskool Jan van Riebeeck, Kaapstad, in 1969. Vanaf 1970 tot 1974 studeer hy tale en onderwys aan die Universiteit van Stellenbosch. Om sy studies te finansier speel hy gereeld as eenmanorkes by die Devon Valley op Stellenbosch asook op privaatfunksies.

Hy begin in hierdie tydperk saam met die bekende skrywer, Hennie Aucamp, eksperimenteer met verskeie genres in Afrikaanse musiek. Die liedjies wat uit hierdie samewerking spruit lei to Johan se eerste televisieoptrede as sanger/liedjieskrywer in 'n program getiteld "Perspektief" in 1979. Hy behaal die BA-graad en Hoër Onderwysdiploma in 1974 en studeer verder in die onderwys aan die Universiteit van Kaapstad waar hy die B.Ed-graad verwerf terwyl hy as departementshoof in Afrikaans Eerste taal skoolhou aan die Hoër Seunskool Rondebosch.

Johan tree in 1980 uit die onderwys en verhuis na Johannesburg waar hy as Ligtemusiek Regisseur by die Suid-Afrikaanse Televisiediens vanaf 1 Julie 1980 aangestel is.

1980's

Behalwe vir sy optredes as sanger/liedjieskrywer op die 1980-televisiereeks "Elke Liedjie Vertel 'n Storie", vervaardig, mede-vervaardig, regisseur en bied Johan verskeie gewilde reekse aan.

Platepraatjies, (1980–1985) 'n musiekgeselsprogramreeks.

My Land My Lied, (1981) 'n musiekreeks wat met 'n buite-uitsendingseenheid wat dwarsoor Suid-Afrika verfilm is.

Micro Macro, (1981–1982) 'n speletjiesprogram met Leon Schuster in Leon se heel eerste televisierol as aanbieder.

Treffers van Toeka tot Nou, (1983) ‘n nostalgiese reeks gebaseer op die treffers van 1900 tot en met die 1980's gekoppel aan die modes, giere en voorbladgebeure van die onderskeie tydperke.

'n Spesiale Musiekprogram (1984) met die Griekse diva Nana Mouskouri.

Verskeie persoonlikheidsprogramme, (1985) met die top plaaslike kunstenaars van die tyd soos Rina Hugo, Randall Wicomb, Anneli van Rooyen en Manuel Escorcio.

Die Gé sing reeks (1983-1985) plaaslik en in Europa. Hierdie was die eerste en tot op datum die enigste Suid-Afrikaanse musiekproduksie wat met 'n enkelkameraopset in 12 Europese lande binne 'n tydperk van 6 weke geskiet is.

Debuut; (1986-1988) 'n Musiektalentkompetisie wat die loopbane van verskeie jong plaaslike sangers geloods het.

Teletreffers, (1987–1989) 'n Musiekreeks oor die plaaslike musiekbedryf waarin die eerste Afrikaanse musiekvideos vervaardig is.

Crescendo, (1984–1987) Verskeie verhoogproduksies vir die ATKV waarin opkomende sangers en liedjieskrywers ontdek is.

Verskeie buitemuurse Musiekfeeste (1985–1989) in groot sportstadiums asook die aanbied en regie van die massavertoning op die destydse Ellis Park ter viering van die Johannesburgse Eeufees.

Dekade van 80, (1989). ‘n Musiekprogram oor die trefferliedjies en kunstenaars van die tagtigerjare.

In 1989 bedank Johan by die SAUK-televisiediens en saam met sy jarelange vennote, Johan van Rensburg en Elsa Colling, begin hulle die produksiemaatskappy, STEMMBURG TELEVISIE. Hierdie was die eerste produksiehuis, bestaande uit voormalige werknemers, om musiek- en speletjiesprogramme buite die SAUK te vervaardig .

1990's

1991 was die jaar waarin televisiekykers se gunsteling Noot vir Noot, die lig gesien het. Hierdie musiekspeletjiesprogram bly steeds deel van menigde Suid-Afrikaanse huishoudings se vermaak na 28 jaar. In 1998 is die program aangepas vir Britse gehore en deur London Weekend Television as “Michael Barrymore’s My Kind of Music” deur 'n Britse span vervaardig. Die program het 'n baie suksesvolle lopie in Brittanje geniet van 1998 tot 2002.

In 1997, vervaardig Johan die Woordspeletjie A Word or 2 wat deur die gewilde radiopersoonlikheid Jeremy Mansfield aangebied is. Die suksesvolle program is vir 9 jaar weekliks op SABC2 uitgesaai.

2000's

In 2004 vervaardig Johan die opvoedkundinge kinderreeks  Wise Up (Words and Numbers) met Denver Vraagom as aanbieder. Hierdie opvoedkundige speletjie is spesifiek ontwerp om syfer- en lettervaardigheid onder jong leerlinge aan te moedig. Tot op datum is oor die 350 episodes van hierdie speletjie uitgesaai. Die formaat is met die Japannese Prys vir Opvoedkunde erken en in Japannees vertaal en op die nasionale uitsaaier, NHK, uitgesaai.

Fly the beloved country, a bird's eye-view of South Africa, is 'n dokumentêr wat Johan vervaardig het na aanleiding van sy liefde vir girokoptervlieg.

In 2014 vervaardig Johan 'n nuwe inheemse musiekspeletjie , Musiek Roulette, vir SABC2. Die program word steeds deur die sangeres Nádine aangebied. Hierdie program bied 'n platform vir 78 nuwe, opkomende en bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars per seisoen.

In 2017 ontwerp en medevervaardig Johan die heel eerste veeltalige vasvraprogram FUNDIS vir SABC2.

Persoonlike lewe

Johan trou in 1980 met Colleen, 'n wiskundeonderwyseres. Hulle ontmoet terwyl albei skoolhou aan die Hoër Seunskool Rondebosch. Colleen tree af as skoolhoof aan die Rooseveld Hoërskool in Johannesburg na 25 jaar in die onderwys. Hulle het twee seuns, albei getroud. Carl (gebore 1984) is 'n televisieregisseur. Hy het sy honneurs en meestersgrade in Regie en kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria verwerf na sy “Bachelor of Motion Picture Medium” graad aan AFDA.

Etienne (gebore in 1986) verwerf sy honneursgraad in inligtingswetenskappe aan die Universiteit van Pretoria. Hy woon en werk as 'n webontwerper in Victoria, Brits-Columbië, Kanada.

Johan is 'n vliegentoesias. Hy verwerf sy PPL vlieglisensie met 'n nag- en instrumentgradering in 1989. Hy vlieg enkel- asook dubbelmotorige vliegtuie vir sy besigheid asook girokopters vir sportvlieg. Johan het ook 'n liefde vir die see en seil. Hy verwerf sy seiljagskipperslisensie in 2010.

Teen 2018 bied Johan ononderbroke vir 38 jaar op SABC2 (voormalige TV1) aan wat hom tans die langslopende aanbieder op die nasionale uitsaaier sedert die invoer van televisie in Suid-Afrika maak. As gevolg van sy tv-werklading en die behoefte om meer gesinstyd te spandeer, hou Johan in 2000 op met musiekkonserttoere en CDs opneem. Na 'n breek van 10 jaar reik hy in 2010 “Johan Stemmet – Inspirational Songs” uit. Die album bereik die nommer 1 posisie op die “South African Gospel charts” drie weke na uitreiking en verkoop 14 000 kopieë binne die eerste 4 dae na uitreiking. Die album bereik ook goue status.

Johan se outobiografie “Woord vir Woord" asook “Musiek Trivia” deur Johan Stemmet en sy mederegisseur Elsa Colling word deur Penguin Books in 2011 gepubliseer.

Toekennings

Artes Toekenning; Beste bydrae tot verskeidenheidsprogramme 1994

Avanti Toekenning vir Effektiewe Kommunikasie 2001

Avanti Toekenning; Beste aanbieder 2001

Avanti Toekenning vir kreatiwiteit 2001

SABC “Golden Plume Award” vir sy bydrae tot die Suid Afrikaanse Televisie Bedryf  oor 30 jaar 2006

Rapport Vonk Musiek Pionier Toekenning 2009

SAFTA Toekenning; Best Game Show 2010

SAFTA Toekenning; Best Game Show. 2011

TEMPO Toekenning 2015 Lewenslange bydrae tot televisie.

SAFTA 2018 “Lifetime Achiever's Award”

SAFTA 2019 Best Game Show

Diskografie

Stemmet se albums:

  • Reisiger, 2007 KOSMOS
  • Inspirational Songs, 2006 KOSMOS
  • Goue Gedagtes, 1999
  • Stil Deur My Lewe, 1997
  • Om Tyd Te Maak, 1995
  • Grootste Treffers, 1993
  • 'My Musiek', 1991
  • 'n Deel Van My, 1988
  • Ons Lied Is 'n Duet, 1987
  • As Ek Maar Net Kon Sê, 1986/2002 EMI
  • Op Versoek, 1984
  • Die Klokkespel, saam met Laurika Rauch, Cora Marie en Kupido, 1983
  • Bianca, 1982
  • Kwarteltjie En Korhaan / Septemberland7", 1981 RAP
  • Ek Is Lief Vir Jou, 1980
  • Live at Devon Valley, 1971/2 EMI

Verwysings

Sien ook

  • Lys van Suid-Afrikaanse musikante

Eksterne skakels

The contents of this page are sourced from Wikipedia article. The contents are available under the CC BY-SA 4.0 license.
Lists
Johan Stemmet is in following lists
comments so far.
Comments
From our partners
Sponsored
Credits
References and sources
Johan Stemmet
arrow-left arrow-right instagram whatsapp myspace quora soundcloud spotify tumblr vk website youtube pandora tunein iheart itunes