Hendrik du Plessis
Quick Facts
Biography
Ds. Hendrik Lourens Marthinus du Plessis (noemnaam Platbos, 26 Mei 1926, Noord-Transvaal, Suid-Afrika – 1 September 1997) was predikant in vier gemeentes van die Gereformeerde Kerk tot sy vervroegde emeritering in 1973 weens mediese redes.
Herkoms en opleiding
Hendrik du Plessis was ’n boorling van Noord-Transvaal en het sy skoolopleiding aan die Hoërskool Nylstroom (op die teenswoordige Modimolle) voltooi en in 1944 daar gematrikuleer. Begin 1945 het aan die PUK vir CHO vir predikant begin studeer. Hy het goed in sy studie gevaar en was ’n harde werker. Die graad B.A. het hy opgevolg met ’n B.D.-graad (met lof). In die sewe jaar dat hy aan die PUK was, het hy ’n leidende rol in die studentelewe gespeel. Etlike jare het hy in die studenteraad gedien, hy was primarius van die manskoshuise en kaptein van die eerste rugbyspan. Volgens oorlewering was hy ’n betroubare stelskopper en skrumskakel wat menige wedstryd doelskoppe vir die PUK gewen het. Reeds op universiteit het sy tydgenote hom Platbos genoem, na aanleiding van die rivier op die plaas in die Waterberge waar hy groot geword het. Die plaas is ook algemeen Platbos genoem, al het dit ander naam gehad. Hy het sy studie in 1951 voltooi en is deur die Gereformeerde Kerk beroepbaar gestel.
Gemeentebediening
Ds. Du Plessis is in 1952 bevestig in sy eerste gemeente Theunissen, waar hy gebly het tot hy in 1955 ’n beroep na Kaapstad aangeneem het, waar hy reeds die vierde predikant was sedert ds. Johan van Ryssen in 1937 as die toe 14 jaar oue gemeente se eerste predikant bevestig is. Net drie jaar later het hy teruggekeer na die Oranje-Vrystaat as die tweede Gereformeerde predikant van Welkom.Hiervandaan het hy in 1966 na Johannesburg gegaan nadat hy ’n beroep aangeneem het na Linden.
Ds. C.M.J. van Vuuren, wat ds. Du Plessis aan die Puk ontmoet het en met wie hy ’n tyd lank ’n koshuiskamer gedeel het, beskryf hom in sy lewensberig in die GKSA se Almanak vir die jaar 1999 as ’n "aangename mens en ’n betroubare vriend. Soms spitsvondig . . . Hy het mooi gawes van die Here ontvang wat hy gebruik het in sy lewe, in die kerk tot nut van sy medemens. Dye gemeentes waar hy gedien het, was vol van waardering vir sy bediening van die Woord en herderlike werk. Sy prediking was stigtend en opbouend. Oudlidmate kan daarvan getuig."
Ná ’n bediening van net 21 jaar en toe hy nagenoeg 47 jaar oud was, het ds. Du Plessis in Linden skielik geword toe meteens fout kom met sy helder verstand. Ná mediese ondersoeke moes hy in 1973 emeriteer. Hierna was dit moeilike jare vir hom en sy gesin, want liggaamlik was hy gesond en ook siek. Hy kon nie meer preek nie, maar die ander werk wat hy beproef het, was sonder sukses. So moes hy dan 24 jaar lank tuisbly. Sy vrou, Sophie, moet gaan skoolhou.
Ds. Van Vuuren skryf van ds. Du Plessis se siekte: "Hy kon nog kommunikeer en ’n mens het min van sy siekte gesien. Hendrik het nie gemurmureer of in opstand gekom nie. Hy het die beskikking van die Here aanvaar en berustend gedoen wat hy nog kon doen. Met die verbygaan van die jare het hy volhard in die geloof. " Maar middel 1997 het dit nie goed met hom gegaan nie. Hy kon nie meer eet nie, komplikasies het ingetree en ná een behandeling het sy kragte finaal ingegee.
Gesinslewe
Aan die PUK het ds. Du Plessis sy lewensmaat, A.S. (Sophie) du Toit, ontmoet. Sophie was een van drie dogters van Frans en Mien du Toit. Uit hul huwelik is vier kinders gebore, van wie Willemien du Plessis professor in die regte aan die PUK was.
Bronne
- (af) Van Vuuren, ds. C.M.J. in Van der Walt, dr. S.J. et al. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1999. Potchefstroom: Administratiewe Buro.