Quantcast
TH
South Africa
70 views this week
T.J. Haarhoff

T.J. Haarhoff

The basics
Quick Facts
Countries South Africa
Occupations Writer Translator
A.K.A. Theo Haarhoff, Theodorus Johannes Haarhoff, Theodor Haarhoff, Theodor J. Haarhoff
Gender male
Birth April 30, 1892
Death August 30, 1971
The details
Biography

Prof. dr. Theodorus Johannes (Theo) Haarhoff (Paarl, 30 April 1892 – 30 Augustus 1971) was 'n Suid-Afrikaanse skrywer en letterkundige. Hy lewer 'n beduidende bydrae tot die Afrikaanse letterkunde met sy vertalings van antieke Griekse en antieke Romeinse gedigte.

Herkoms en opleiding

Theo Haarhoff se vader, dr. Barend Johannes Haarhoff, was van 1905 tot 1912 leraar van die NG gemeente Kaapstad met spesiale werkkring die wyk Maitland.

Theo Haarhoff was die seun van dr. B.J. Haarhoff, vroeër inspekteur van skole en agerende direkteur van onderwys in die Oranje-Vrystaat, maar op latere leeftyd predikant in die Groote Kerk met werkkring Maitland. Haarhoff se moeder was ’n dogter van J.S. Marais, 27 jaar lank lid parlementslid vir die Paarl en ondersteuner van die Bondsparty van Jan Hendrik Hofmeyr (Onze Jan).

Haarhoff ontvang sy opleiding op sy tuisdorp en aan die Suid-Afrikaanse Kollege, Kaapstad, aan die Universiteite van Kaapstad, Berlyn, Oxford, Londen en Amsterdam. Hy het die hoogste punte is sy matriekeksamen behaal, die goue medalje vir letterkunde van die Kaapse universiteit verwerf en die hoogste plek verower in B.A.-Honneurs. Met die Porter- en Rhodes-beurse kon hy oorsee gaan vir verdere studie. Ná ’n tydelike lektoraat aan die Universiteit van Stellenbosch het hy Berlyn toe gegaan en van daar na Oxford.

Aan die Suid-Afrikaanse Kollege was hy bevriend met die latere adjunk-premier van die Unie Jannie Hofmeyr, saam met wie hy in 1921 'n pamflet, Two studies in ancient imperialism, geskryf het wat, hoewel bondig, een van die mees deurtastende ontledings is van die latere Romeinse Ryk. By die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het Haarhoff na Suid-Afrika teruggekeer en was ’n tyd lank lektor in Engels aan die Universiteit van Kaapstad. Daarna het hy sy studie aan Oxford voortgesit met ’n proefskrif oor opvoeding in Gallië, en later in Amsterdam met ’n proefskrif oor Vergilius. So verwerf hy tydens sy buitelandse studie ’n doktorsgraad aan sowel Oxford as Amsterdam, albei in klassieke tale.

Akademiese loopbaan

In 1919 is Haarhoff aangestel as lektor in klassieke lettere aan die Universiteit van Kaapstad en in 1932 as professor aan die Universiteit van die Witwatersrand, waar Hofmeyr kanselier was van 1938 tot dié se dood in 1948. In die opvoeding was prof. Haarhoff se strewe die vertolking van die antieke kultuur met besondere verwysing na die samewerking van kulture in die klassieke oudheid, en die parallel tussen die ontwikkeling van Afrikaans as skryftaal en die groei van Latyn tot die Romaanse tale.

Openbare rol

Sy aandeel aan die openbare lewe het onder meer die volgende ingesluit: lid van die Sentrale Skoolraad, Johannesburg, die Universiteitsraad van Wits, lid van Johannesburg se Hopsitaalraad en van die Matrikulasieraad, lid van die programkomitee van die Voortrekkereeufees van 1938 en lid van die Beheerraad van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie, waar hy dien in die Raad vir Skoolradio, en voorsitter van die Raad vir Kerkdienste.

Prof. Haarhoff was lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, buitelandse lid van die École Palatine in Frankryk, genoot van die Royal Society of Arts in Londen. Hy was waarskynlik die eerste Afrikaanssprekende wat laasgenoemde onderskeiding verwerf het. Hy het die Nedbank-Akademieprys vir Vertaalde Werk in 1952 gewen en is in 1969 'n erelid van die SA Akademie gemaak.

Waardering

Prof. Haarhoff, omstreeks 1948.

Grant Parker skryf prof. Theo Haarhoff se gevarieerde loopbaan bied buitengewone insig in die Suid-Afrika van die eerste helfte van die 20ste eeu. “Hy was nie bloot ’n klassikus nie, maar ook ’n Afrikaanse digter en openbare intellektueel van formaat. In werke soos Vergil, the Universal het hy die Romeinse oudheid in verband gebring met die hedendaagse Suid-Afrika. Sy wetenskaplike skryfwerk oor antieke etniese identiteit baie oor sy eie tyd, veral die optimisme wat baie by baie mense aangewakker is deur internasionale organisasies ná die Eerste Wêreldoorlog. Baie kom aan die lig deur sy verhouding tot of bewondering van geleerdes soos Gilbert Murray en Jackson Knight, en die Suid-Afrikaanse staatsmanne genl. Jan Smuts en J.H. Hofmeyr. In Haarhoff se werk behels antieke ‘universalisme’ die verhoudinge tussen Engels- en Afrikaanssprekendes blankes, veel meer as Suid-Afrika se volle rasse- en etniese verskeidenheid. As ’n storie Smuts-ondersteuner was sy beskouinge liberaal vir hul tyd, maar uit ’n latere perspektief het dit nie ver genoeg gegaan nie.”

Betrokkenheid by spiritisme

Tydens 'n onderhoud van drie uur lank het die joernalis Thys Sadie 'n séance-opname, waarin Jan Smuts deur 'n medium sou praat, aan T.J. Haarhoff voorgespeel. Die doel was om uit te vind of die stem wat praat werklik dié van Jan Smuts is. Daarop het hy geantwoord:

Cquote1.svg

- … maar ek betwyfel nie dat dit oom Jannie is nie. Ek het bevestiging gekry dat hy met jou gepraat het."
- "Bevestiging?" vra ek verbaas. "Van wie?"
- "Van Margaret Lloyd," antwoord hy. "Sy was 'n merkwaardige persoon en waarskynlik een van die beste mediums ter wêreld. Deur haar het ek self verskeie kere met genl. Smuts gepraat en ook met ander bekende persone soos Langenhoven, Louis Leipoldt, genl. Botha en Cecil Rhodes, om maar net 'n paar te noem. Sedert haar dood is ek nog gereeld met haar in aanraking."
- "Dan glo u werklik dat dit hierdie persone self is wat deur die medium gepraat het?"
- "Ek twyfel nie daaraan nie," antwoord hy sonder aarseling. "As wetenskaplik opgeleide mens het ek geleer om gegewens te toets, en na meer as agt-en-dertig jaar van ondersoek verbaas ek my oor die sogenaamde intellektuele wat afwerende gebare maak en eenvoudig hulle oë vir die waarheid sluit."

Cquote2.svg

Tydens die onderhoud pols Sadie hom met teenvrae. Haarhoff beskou "gesplete persoonlikhede" of "persoonlikheidsdissosiasie" as onmoontlik, want met soveel honderde geeste wat deur 'n enkele medium moet praat (en dan sy/haar eie persoonlikheid en karakter wil behou) "moet die medium se gees darem taamlik fyn opgesplits wees".

Teen telepatie het hy ook 'n antwoord:

Cquote1.svg

...maar dit verklaar nog nie hoe daar deur 'n medium boodskappe kan kom in tale waarvan die medium se brein totaal onkundig is nie. Ek het dikwels gesprekke met persone in klassieke tale gevoer en boodskappe in Duits, Frans, Italiaans, Nederlands, Afrikaans, Hindoestani, Oud-Egipties, Arabies, antieke Grieks en Latyn deur 'n medium ontvang wat net Engels kon praat.
In sulke gevalle kan ek nie sien hoe daar enige twyfel oor die egtheid van die boodskap of die identiteit van die persoon kan bestaan nie.

Cquote2.svg

Wanneer Sadie dan die kerk se standpunt stel dat dit moontlik bose geeste is wat deur mediums praat en hulle as afgestorwenes voordoen, antwoord Haarhoff:

Cquote1.svg

"Oor daardie standpunt wil ek my liewer nie uitlaat nie," […] "Al wat ek wil sê, is dat die dissipels van Jesus dieselfde psigiese vermoëns as hedendaagse mediums gehad het en by minstens een geleentheid waarvan ons weet, ook in ander tale gepraat het. As ons mediumverskynsels dus as iets uit die bose moet beskou, moet ons ook die bron van die dissipels se inspirasie in twyfel trek. Dit is duidelik dat ons nie 'n vooropgesette dogma kan huldig nie maar elke geval op eie meriete moet ondersoek om vas te stel uit watter bron die inligting kom.
Paulus het van die 'onderskeiding van die geeste' gepraat en Johannes het 'n duidelike opdrag aan die eerste Christene gegee: 'glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is.' Is dit vir my nodig om meer as dit te sê? Daardie opdrag word vandag nog op al die byeenkomste van ons kring toegepas."

Cquote2.svg

Na die onderhoud het Sadie op een Woensdagaand om agtuur die spiritistiese kring in Haarhoff se woonstel in Hillbrow, Johannesburg, bygewoon.

Skryfwerk

Griekse vertalings

Hy lewer veral ’n groot bydrae met sy talryke vertalings uit die klassieke werke. Fragmente uit Cato, Varro en die Georgica van Vergilius word saamgestel as Die Romeinse boer en hy vertaal en versorg ook die twee dele van die versamelbundels Die kortverhaal van die Grieke en Romeine. In hierdie bundels verskyn vertalings van kortverhale van onder andere Apuleius, Cicero, Herodotus, Homerus, Horatius, Livius, Lucianus, Musaeus, Ovidius, Petronius, Phlegon van Tralles, Plato, Plinius, Xenophon, Teokritos en Vergilius. Ten einde groter begrip vir die klassieke te verwek, word elke verhaal voorsien van ’n inleiding, sodat ook die jeugdige of onkundige leser dit ten volle kan waardeer.

Vertalings van Aeschylus se Agamemnon, Sophokles se Antigone en Euripides se Troades verskyn as Die antieke drama en ’n vertaling van Aristophanes se Paddas bestaan in manuskripvorm. Vir Die antieke drama ontvang hy in 1952 die Akademieprys vir Vertaalde Werk.

Eie digkuns

Die liefde van Catullus bevat vertalings van hierdie Latynse digter se Lesbia-verse, maar ook die oorspronklike drie reekse verhalende gedigte oor die lewe van Catullus.

Tria corda bevat ook oorspronklike werk naas vertalings. Die titel verwys na die drie wêrelde wat vir die skrywer se ontwikkeling verantwoordelik is, naamlik sy vaderland waar hy wortel geskiet het, die Europese stede waar sy gees ontwikkel het en die antieke wêreld wat verantwoordelik is vir die intellektuele ontwikkeling van die skoonheid. Hoewel sy verse nog mank gaan deur die oudmodiese sangerigheid en retoriese dreun daarvan, voeg hy met sy gedigte oor die mitologie en klassieke figure ’n wyer tematiek tot die kontemporêre digkuns by. Van sy gedigte en sketse verskyn in publikasies soos die Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring en word opgeneem in verskeie versamelbundels, insluitende Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Groot verseboek, Digters en digkuns, Tussen die engtes, Afrikaanse versameling, Afrikaanse natuurpoësie, Digters en digsoorte, Uit ons digkuns, Afrikaanse letterkunde, Die junior digbundel en My Afrikaanse verseboek.

Reisverhaal

Briewe aan Reinhard is ’n reisverslag oor die Mediterreense lande. Sy aanbieding is in die vorm van intieme briewe, maar ofskoon hy telkens persoonlike herinneringe opdiep, verval hy nie in vervelende besonderhede nie. Die briewe is gerig aan Reinhard Kottich, ’n vroeg gestorwe akademievriend, wat dan ook aanleiding gee tot die titel van die boek. Die hoofdoel van die reisverhaal is om die leser nader te bring aan die klassieke kultuur, maar hy kleur die potensieel ernstige gegewe in met ’n aantal geestige anekdotes. A.P. Grové neem die gedeelte Oor Athene, onder andere op in Trekvoëls, ’n versamelbundel van reissketse.

Engelse vertalings

Haarhoff vertaal Somer van C.M. van den Heever in Engels as Harvest home en skryf ook enkele werke in Engels om die Afrikaanse taal en letterkunde aan die Engelse wêreld voor te stel, soos The achievement of Afrikaans (1934), terwyl sy Oxford-voorlesings gepubliseer word as Afrikaans, its origin and development (1936). The stranger at the gate is ’n ondersoek na aspekte van eksklusiwiteit en samewerking in antieke Griekeland en antieke Rome, met enkele verwysings na moderne tye.

Eerbewyse

Met sy aftrede as professor in 1957 word die huldigingsbundel Roman life and letters: studies presented to T.J. Haarhoff aan hom oorhandig, ’n boek met vakkundige essays deur kollegas en studente. Hy ontvang eredoktorate van die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van Natal. In 1969 word hy verkies tot erelid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Publikasies

Jaar Publikasie
1922 Primi Gradus
1931 Tria corda

Die klassieke in Suid-Afrika

Vergil in the experience of South Africa

1934 The achievement of Afrikaans
1936 Briewe aan Reinhard

Afrikaans, its origins and developmen

1946 The ABC of Afrikaans
1948 The stranger at the gate
1949 Vergil, the universal
1970 Smuts, the humanist: A personal reminiscence

Vertalings

Jaar Publikasie
1925 Die Romeinse boer
1935 Die kortverhaal van die Grieke en Romeine I en II

Die liefde van Catullus

1945 Harvest home – C.M. van den Heever
1946 Die antieke drama – Aeschylus, Sophokles en Euripides

Bronne

Boeke

  • Antonissen, Rob. Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede. Nasou Beperk. Derde hersiene uitgawe. Tweede druk, 1964.
  • APB-Komitee vir Skoolboeke. Die junior digbundel. Afrikaanse Pers-Boekhandel. Johannesburg. Sesde druk, 1963.
  • Buning, Tj. Uit ons digkuns. J.L. van Schaik Bpk. Pretoria. Nuwe omgewerkte druk, 1960.
  • Dekker, G. Afrikaanse Literatuurgeskiedenis. Nasou Beperk. Kaapstad. Elfde druk, 1970.
  • Grové, A.P. Letterkundige sakwoordeboek vir Afrikaans. Nasou Beperk. Vyfde uitgawe. Eerste druk, 1988.
  • Grové, A.P. Trekvoëls. Voortrekkerpers Beperk. Johannesburg, 1969.
  • (af) (en) Hofmeyr, W. Lou(w); Hofmeyr, Nico J.; Hofmeyr, S.M.; Hofmeyr, George S.; Hofmeyr, Johannes W. (samestellers). 1987. Die Hofmeyrs: 'n Familiegeskiedenis. Lynnwoodrif en Bloemfontein: Die Samestellers.
  • Kannemeyer, J.C. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1. Academica, Pretoria en Kaapstad Tweede druk, 1984.
  • Kannemeyer, J.C. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2. Academica, Pretoria, Kaapstad en Johannesburg. Eerste uitgawe. Eerste druk, 1983.
  • Kannemeyer, J.C. Die Afrikaanse literatuur 1652–2004. Human & Rousseau. Kaapstad en Pretoria. Eerste uitgawe, 2005.
  • Krige, Uys (red.) Afrikaanse versameling. A.A.M. Stols Uitgevers-maatschappij Maastricht. Eerste uitgawe, 1937.
  • Nasionale Pers Beperk. Ons skrywers en hul werke: ’n Plate-album. Nasionale Pers Bpk. Kaapstad, 1936.
  • Nienaber, P.J. en Lategan, F.V. Afrikaanse natuurpoësie. Afrikaanse Pers-Boekhandel. Derde druk, 1952.
  • Nienaber, P.J. (samesteller) Digters en digkuns. Afrikaanse. Pers-Boekhandel. Derde druk, 1954.
  • Nienaber, P.J. Gedenkboek C.M. van den Heever 1902–1957. Afrikaanse Pers-Boekhandel. Johannesburg, 1959.
  • (af) Nienaber, P.J. 1949. Hier Is Ons Skrywers! Biografiese Sketse van Afrikaanse Skrywers. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.
  • Nienaber, P.J. Jonger skrywers oor eie werk. Afrikaanse Pers-Boekhandel. Johannesburg. Eerste uitgawe, 1951.
  • Nienaber, P.J,; Senekal, J.H en Bothma, T.C. Mylpale in die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde. Afrikaanse Pers-Boekhandel. Tweede hersiene uitgawe, 1963.
  • Nienaber, P.J. et al. Perspektief en Profiel. Afrikaanse Pers-Boekhandel. Johannesburg. Derde hersiene uitgawe, 1969.
  • Opperman, D.J. Digters van Dertig. Nasou Beperk. Kaapstad. Eerste druk, 1953.
  • (af) Sadie, T. 1982. Reis na die onsigbare wêreld. Pretoria: Folio-uitgewers.
  • Schoonees, P.C. Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging. J.H. de Bussy, Pretoria / Hollandsch-Afrikaansche Uitgevers Maatschappij v/h J. Dusseau & Co, Kaapstad 1939 (derde druk)
  • (af) Swart, dr. M.J. (voorsitter redaksiekomitee). 1980. Afrikaanse kultuuralmanak. Aucklandpark: Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge.

Tydskrifte en koerante

  • Van Heerden, Ernst. Theodorus Johannes Haarhoff. in Jaarboek van de Maatschappij de Nederlandse Letterkunde te Leiden 1972–1973.

Verwysings

The contents of this page are sourced from Wikipedia article. The contents are available under the CC BY-SA 4.0 license.
comments so far.
Comments
Herkoms en opleiding Akademiese loopbaan Openbare rol Waardering Betrokkenheid by spiritisme Skryfwerk Eerbewyse Publikasies Bronne
arrow-left arrow-right arrow-up arrow-down instagram whatsapp myspace quora soundcloud spotify tumblr vk website youtube stumbleupon comments comments pandora gplay iheart tunein pandora gplay iheart tunein itunes