Quantcast
ADB
40 views this week
Albert du Biel

Albert du Biel

The basics
About
Gender male
The details
Biography

Albert Johan Ernest du Biel (27 Oktober 1884, Mosselbaai –† 3 Augustus 1963, Pinelands) verwerf bekendheid as een van die eerste avontuurverhaalskrywers in Afrikaans.

Lewe en Werk

Herkoms en vroeë lewe

Albert Johan Ernest du Biel is op 27 Oktober 1884 op Geelhoutboom in die distrik Mosselbaai gebore as een van ses kinders. Sy vader, Balthasar du Biel, was ’n Poolse sendeling wat deur die Rynse Sendinggenootskap na Suid-Afrika gestuur is en sy moeder,  Anna Louisa Brecher, is op Steinkopf gebore as die dogter van ’n Rynse sendeling. Sy broers en susters was Anna Maria, Louise Emilie, Paul Leopold Ferdinand, James Balthazar en Helen Lily Edith. Hy is ’n grootoom van die Nobelpryswenner J.M. Coetzee. Sy ouers leer hom lees en skryf en hy woon nooit formeel skool by nie. Die huistaal is Duits en Engels. Aanvanklik arbei sy vader in Groot-Namakwaland en hierna tree hy vir elf jaar op as predikant vir Evangeliese Duitsers in die Verenigde State van Amerika. In Amerika leer Albert Engels aan en word sy huistaal Engels, alhoewel sy moeder steeds met hom Afrikaans praat.

Loopbaan

Vanaf sy vyftiende jaar moet hy vir homself sorg en hy word dan ’n joernalis. ’n Ruk later moet hy ook die verantwoordelikheid van die sorg van sy ouers op hom neem. Dit is ongeveer in hierdie tyd wat hy die eerste keer met Afrikaans as skryftaal kennis maak deur middel van die tydskrif Ons Klyntji. Sy eerste geskrifte is in Engels en hy skryf dan ook aanvanklik Engelse artikels vir Ons Klyntji. Eers in 1915 begin hy in Afrikaans skryf.

Sy jeugjare bring hy in die distrik Oudtshoorn deur. Vanaf Augustus 1918 werk hy vir ’n ruk by die Sanlam-versekeringsmaatskappy. Saam met ’n aantal vennote stig hy in 1928 die Boereblad Pers in die Paarl, wat Die Boereblad nuusblad uitgegee het. Hierin het berigte oor die landbou en verhale in Engels en Afrikaans verskyn, asook die dramas en gedigte van hom en ander skrywers. In die Paarl neem hy ook deel aan kulturele aktiwiteite en skryf en regisseer verskeie dramas. Die depressie van die vroeë dertigerjare gee Die Boereblad egter ’n knou en publikasie daarvan word noodgedwonge gestaak.

Persoonlike lewe en sterfte

In 1920 trou hy met Catharina Johanna (Kitty) Maré en hulle het ’n seun, Ernest Baltes, gebore op 12 Oktober 1923. Hulle vestig hulle in Kaapstad, eers in 1951 op Goodwood en later op Elsiesrivier. Op 3 Augustus 1963 is hy in Pinelands in Kaapstad oorlede.

Skryfwerk

Avontuurverhale

Hy is een van die eerste avontuurverhaalskrywers in Afrikaans.

Aanvanklik skryf hy kortverhale en vervolgverhale vir Die Huisgenoot en ander tydskrifte. Sy eerste lang verhaal, Getrou, verskyn eers in 1917 as vervolgverhaal in Die Huisgenoot en word daarna in boekvorm uitgegee as deel van Die Burger-Leeskring. Dit is ’n roman oor die Hugenote, vol avonture waarvan verskeie erg onwaarskynlik is. Verder gaan die verhaal mank aan swak karakterisering en word die agtergrond van Holland en Frankryk so gebrekkig aangedui dat hierdie gebeurtenisse netsowel op enige ander plek kon plaasvind.

Die meer geslaagde Misdade van die vaders is ’n roman oor die Voortrekkers, wat ook deur Paul de Groot vir die verhoog verwerk en in die dertigerjare opgevoer word. Die misdadiger Jan Alpenveld besluit om aan die Kaap ’n nuwe lewe te begin. Hy verower die hart van die plaasmeisie Annie Bester, die aangenome kind van Petrus Liebenberg, wat verloof was aan sy seun Tjaart. As Oom Petrus beswaar maak teen die huwelik, vlug Annie met Jan Kaap toe. Na Annie se vlug sny Oom Petrus haar naam uit die familieregister voor in die Bybel en vervloek vir Annie en Jan met die Bybelse vloek dat die misdade van die vaders besoek sal word aan die kinders. Jan Alpenveld beland weer in die hande van die gereg maar tussen sy seun, Nikolaas, en Tjaart se dogter, Lenie ontstaan weer ’n liefdesverhouding, wat deur dieselfde Bybelteks verydel word. Nikolaas trek alleen na die woeste Noorde, waar hy later op geheimsinnige wyse groot dienste aan die Trekkers bewys. Hy ontmoet weer vir Lenie, maar word gedood in ’n geveg met een van die swart stamme. Tjaart word deur sy vrou geleer dat die grootste gebod dié van die liefde is. Die verhaal speel af oor drie geslagte en hoewel die milieu meer bekend is, gaan die roman steeds mank aan gebrekkige karakterisering. Die betogende styl vertel ook meermale eerder as dat die gebeure vir sigself spreek.

Hierdie twee boeke, asook Kain, is gereeld vir skoolgebruik voorgeskryf. Die gebeure voor en tydens die Eerste Vryheidsoorlog is die historiese agtergrond vir Kain. Die vadervloek rus op Frans Naudé en in die uitwerking van die besonderhede is daar groot ooreenkoms met Die Misdade van die Vaders. Frans moet Swaziland se grense bewaak, maar hy laat hom omkoop deur die skurke en wapensmokkelaars Snelskiet en sy handlanger Lewinski. Na ’n tydperk van eensame boetedoening word Frans in sy eer herstel as gevolg van sy dapperheid by die slag van Laingsnek. Hierdie roman is ook tot drama verwerk en in 1934 deur Paul de Groot se geselskap opgevoer.

Oor berg en vlakte is ’n aantal avonture vir die jeug, wat aanvanklik in twaalf afsonderlike dele uitgegee word.

Ander skryfwerk

Die Afrikaanse debatboek ontstaan wanneer vriende by hom aandring vir gediggies en toneelstukkies vir debatsverenigings.

Die verraaier is ’n bundel met kortverhale, waarin die karakters hoofsaaklik geskoei is op die dorpsmense waarmee hy te doen gehad het.

Publikasies

Jaar Publikasie
1919 Die Midade van die Vaders
1921 Getrou
1922 Kain

Oor Berg en Vlakte

1925 Die Afrikaanse Debatkoek
1931 Die Verraaier
1942 Die Eenoog Verkenner
1944 Blomdoorns

Bronne

Boeke

  • Antonissen, Rob. Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede. Nasou Beperk. Derde hersiene uitgawe. Tweede druk, 1964.
  • Dekker, G. Afrikaanse Literatuurgeskiedenis. Nasou Beperk. Kaapstad. Elfde druk, 1970.
  • Grové, A.P. Letterkundige sakwoordeboek vir Afrikaans. Nasou Beperk. Vyfde uitgawe. Eerste druk, 1988.
  • Kannemeyer, J.C. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1. Academica. Pretoria en Kaapstad. Tweede druk, 1984.
  • Nienaber, P.J. Hier is ons skrywers! Afrikaanse Pers-Boekhandel. Johannesburg. Eerste uitgawe, 1949.
  • Nienaber, P.J. et al. Perspektief en Profiel. Afrikaanse Pers-Boekhandel. Johannesburg. Derde hersiene uitgawe, 1969.
  • Schoonees, P.C. Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging. J.H. de Bussy, Pretoria / Hollandsch-Afrikaansche Uitgevers Maatschappij v/h J. Dusseau & Co. Kaapstad, 1939 (derde druk).
  • Van Coller, H.P. (red.) Perspektief en Profiel Deel I. J.L. van Schaik-Uitgewers. Pretoria. Eerste uitgawe, 1998.

Internet

Verwysings

The contents of this page are sourced from Wikipedia article. The contents are available under the CC BY-SA 4.0 license.
comments so far.
Comments
Lewe en Werk Skryfwerk Publikasies Bronne
arrow-left arrow-right arrow-up arrow-down instagram whatsapp myspace quora soundcloud spotify tumblr vk website youtube stumbleupon comments comments pandora gplay iheart tunein pandora gplay iheart tunein itunes