Retseh la Grange
Quick Facts
Biography
Retseh la Grange is ’n Afrikaanse haikoe-digter.
Lewe en werk
Retseh la Grange is op 21 Februarie 1929 gebore as die dogter van oud-hoofregter L.C. Steyn. Op skool word ’n opstel wat sy oor Liszt se Tweede Hongaarse Rapsodie skryf, oor die radio voorgelees. Van haar sketse verskyn ook in tydskrifte. Hoewel haar belangstelling in kuns lê, voltooi sy ’n onderwysgraad. Sy voltooi die lisensiaateksamen in sang en doen voor haar troue etlike radio-sangopnames. Tussen die kinders grootmaak studeer sy dan verder in die Sielkunde en sy stel veral belang in die metafisika. Aan die Universiteit van Pretoria behaal sy in 1973 die B.A. Honneurs-graad in Sielkunde en in 1976 die M.Litt. et Phil.-graad in Kliniese Sielkunde met ’n verhandeling oor “’n Psigogeniese ondersoek na Enkoprese”. Sy bly in Lynnwood Glen in Pretoria.
Skryfwerk
Sy dig in die tradisionele Japannese haikoe-vorm, wat uit drie reëls en sewentien lettergrepe bestaan. Die reëls is ook streng sillabies, naamlik vyf, sewe en weer vyf. Hierdie digvorm het in die dertiende eeu in ’n Japanse klooster ontstaan, waar monnike van die Zen-Boeddhisme dit as ’n speletjie beoefen het om te kyk of hulle so veel as moontlik in so min woorde as moontlik kan sê. As haikoe-skrywer word sy internasionaal erken en van haar haikoes word in 1990 onder duisende inskrywings van oor die hele wêreld heen tydens twee afsonderlike kompetisies, een in Japan en een in Nederland, in feesbundels opgeneem. Van haar haikoes verskyn ook in die Nederlandse haikoe-tydskrif Vuursteen en in Tydskrif vir Letterkunde. Haar debuut is die bundel “Vlinderstiltes”, waarin sy ook ’n interessante inleiding oor die haikoe-digvorm insluit. Die titel is gekies omdat vlinders en haikoes iets gemeen het in hulle fynheid en prag en beweging in stilte. Sy volg dit op met die soortgelyke “En winter die boom”. Saam met Gerhard Dreyer en Gerhard Mynhardt gee sy dan die bundel “Haikoe-verse” uit, wat ingedeel word volgens die gang van die seisoene.
Publikasies
Jaar | Publikasies |
---|---|
1981 | Vlinderstiltes |
1990 | En winter die boom |
1998 | Haikoe-verse (saam met Gerhard Mynhardt en Gerhard Dreyer) |
Bronnelys
Boeke
- Kannemeyer, J.C. “Die Afrikaanse literatuur 1652-2004” Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria Eerste uitgawe 2005
Tydskrifte en koerante
- Anoniem “Warmasemwasem kry haikoe-prys” “Boekewêreld” 6 September 1997
- Vermaak, Kittie “Uit stilte vlieg die vlinders” “Die Vaderland” 14 September 1981
Internet
- La Grange, Retseh Beeld: http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/1999/04/26/8/9.html
- Worldcat: http://www.worldcat.org/title/psigogeniese-ondersoek-na-enkoprese/oclc/123580482