Johann Parow
Quick Facts
Biography
Johann Heinrich Ferdinand Parow (gebore 1 Maart 1833) was 'n Duitse kaptein.
Parow is in Born am Darss in die provinsie Pommere, Pruise (vandag deel van Duitsland), gebore.
Tydens 'n groot storm in Tafelbaai in 1865 het 19 skepe aan die kus gestrand, waaronder kaptein Parow se skoener, die Kehrwieder. Nadat hy skipbreuk gely het, het kaptein Parow besluit om hom hier te vestig en hy het oor 'n kusvaarder tussen Tafelbaai en die Weskus bevel gevoer. Hy is kort daarna getroud met Johanna Wilhelmina Timmerman, die dogter van die familie wat hulp aangebied het nadat hy skipbreuk gely het. Kaptein Parow het spoedig besef dat die Tygervallei groot moontlikhede inhou en hy het hom landwaarts gewend en aanvanklik met grootvee handel gedryf. Hy het later met grond begin spekuleer in die omgewing waarop die dorpsgebied van Parow, wat na hom vernoem is, later uitgelê is en het groot welvaart opgebou. Hierdie dorpsgebied is vandag 'n voorstad van Kaapstad.
Kapt. Parow is op 4 Desember 1910 in sy woning, Cassibelle, in Maitland oorlede. Sy vrou is tien jaar vantevore reeds oorlede en die huwelik was kinderloos.