H.J.R. du Plessis
Quick Facts
Biography
Ds. Hendrik Jakob Rudolf du Plessis (Philipstown, Kaapkolonie, 13 November 1880 – 11 Februarie 1964) was van 9 Februarie 1907 tot sy emeritaat in 1953 die eerste predikant van die Gereformeerde kerk Bronkhorstspruit (eers Erasmus genoem), sy enigste gemeente.
Herkoms en opleiding
Hendrik du Plessis is op Philipstown gebore, ’n dorp wat Doppers van Colesberg 17 jaar vantevore as kerkplek gestig het weens die vervolging wat hulle aan die hand van die NG predikante van Colesberg moes verduur. By sy geboorte was die predikant van die Gereformeerde kerk Philipstown ds. Jan Lion Cachet, onder wie Du Plessis later aan die Teologiese Skool Burgersdorp en van 1905 tot 1906 die Teologiese Skool Potchefstroom sou studeer. Du Plessis het in ’n sterk Calvinistiese milieu grootgeword.
Hy is op 8 April 1904 getroud met Susanna Vorster, dogter van ds. Louis Vorster en Abrahama Coetsee, ’n dogter van Philipstown se eerste leraar, ds. A.J.J. de Klerk Coetsee. Sy vrou se grootvader aan vaderskant, ds. C.J.H. Vorster, was ook Dopperpredikant. Saam met sy jong bruid (gebore 18 April 1884) het Du Plessis gedeel in die groei van die Teologiese skool in Noordoos-Kaapland en die verskuiwing na Potchefstroom begin 1905 meegemaak.
Bevestiging te Erasmus
Einde 1906 het hy die proponentseksamen afgelê en is hy op 30 Desember daardie jaar beroep (nadat ses ander beroepe misluk het, onder meer vier op ds. W.J. de Klerk) na die gemeente Erasmus, gestig op 24 Desember 1904. Hy is op 9 Februarie 1907 bevestig as die gemeente se eerste predikant. Sy 45-jarige dienstyd is ongeëwenaard in die Gereformeerde Kerkverband.
Oor sy bevestiging het die Kerk se mondstuk, Het Kerkblad, van 1 Maart 1907 soos volg berig: "'t Waren voor ons feestelijke dagen van 8-10 Feb. Was deze gemeente reeds dikwijls teleurgesteld geworden, nu macht zij zich verheugend Prop. Du Plessis, die het beroep naar hier had aangenomen, in haar midden te ontvangen. Vrijdag middag stond dan de gemeente om de pastorie geschaard. Ds. P. Postma, consulent der gemeente, ging met de Kerkeraad voor om Zew. en familie te ontvangen en geleidde hen tot op de varandah der pastorie, waar, namens Kerkeraad, gemeente en kinderen der gemeente 'Welkom' . . . worden aangeboden. Prop. Du Plessis beantwoordde deze, waarna Ds. W.J. de Klerk een gebed deed. Oudl. E.E. Jordaan verzocht toen Ps. 134:3 te zingen."
Gemeentebediening
In Oos-Transvaal het ds. Du Plessis, as heftige en strydlustige Calvinis, 'n lewendige aandeel in die omstandighede van 'n pas oorwonne Republiek geneem. Hy was 'n gevoelsmens, wat dit wat hy waargeneem het, oorweeg het en wat bereid was om die ongewone en oënskynlike onmoontlike as 'n moontlikheid te bedink, aldus Ansie Faasen in die Gereformeerde kerk Bronkhorstspruit se Eeufeesalbum van 2004.
Ds. Du Plessis moes hom, sy kerkraadslede met lidmate van Witbank, Carolina, Piet Retief, Lydenburg, Stegi (Swaziland), Delmas en Groblersdal inspireer om te volhard in die geloof, om leiding te gee waar nodig en self ook hulle eie "prediking" na te volg. Met sy bevestiging was hy een van net ses Gereformeerde predikante in Transvaal en moes hy feitlik die hele Oos-Transvaal bedien en 32 Nagmaalsvierings per jaar hou.
Hy het sy hande vol gehad. Faasen skryf: "Wykskerkraadslede moes toebedeel word om die Blye Boodskap uit te dra, nugtere oordele te vel en minsaam en verdraagsaam met lidmate om te gaan. Indien die lidmate struweling gekry het, (is) van die kerkraadslede verwag om haarfyn uit te pluis wie die skuldige was. Veral die ouderlinge moes erkenning gee aan elke lidmaat se inherente eiewaarde en sy lidmaat se situasie so goed verstaan en hom daarin inleef, al het egtheid nie altyd met sê en doen ooreengekom nie.
"Naasteliefde/liefde is dikwels oor die hoof gesien in die navolging van wat 'sonde' is. Honderd jaar gelede was daar nie reëls wat op 'n formele manier geleer kon word nie en mense het hoofsaaklik uit die wel en wee van elke dag se stuk lewe geleer. Dit het moed geverg en die lewe op wyd verspreide plase het dit moeilik gemaak om sosiale vertroue te bekom. Eensaamheid was een van die belangrikste redes wat lidmate geknou het en sommiges het hulleself met negatiewe evaluering geïdentifiseer. Ons voorouers het deur oorlewering gedoen met hulle kinders, wat hulle ouers met hulle gedoen het en het nie noodwendig geweet wat hulle kinders se emosionele behoeftes was nie.
"Dit was 'n era van wydverspreide misvatting dat 'n dominee iemand is wat 'n groot woordeskat besit en dat raadgewing uit preek bestaan en 'n predikant is deur die gemeentes binne 'n 'vakkie' geplaas en hulle het nie geweet hoe om dit wat hulle vir die predikant wou sê, in woorde om te sit nie. Van die gemeentelede was selfs bang om die voordeur vir hul predikant oop te maak. Ou Dominee se een groot taak was om sy gemeentelede te leer om minder sensitief te word teenoor hom. Ds. Du Plessis het die verantwoordelikheid geneem vir die goeie afloop van die totale gebeure en het die gemeenskap begelei tot selfstandige besluitneming."
Ds. Du Plessis het in 1908 onder 'n boom op plaas nr. 1 die eerste Gereformeerde erediens in Kenia gehou.
Gemeenskapsbetrokkenheid en eerbewys
Ds. Du Plessis, so het Die Kerkblad van 4 Maart 1964 ná sy afsterwe berig, was 48 jaar lank lid van die Bronkhorstspruitse skoolraad, 26 jaar lank krurator van die Teologiese Skool Potchefstroom en 25 jaar lank lid van die raad van Unisa. Ook het hy 37 jaar lank in die raad van die destydse PU vir CHO gedien, waarvan 16 jaar as voorsitter. Van die Pretoriase Distrikskoolraad was hy 46 jaar lank lid en ruim 36 jaar voorsitter. Op 18 April 1959, in die GKSA se eeufeesjaar, het die PU vir CHO die eredoktorsgraad D.Ed. aan hom toegeken.
Afsterwe
Ds. Du Plessis is op 11 Februarie 1964, presies 105 jaar nadat die Gereformeerde Kerk op Rustenburg gestig is, in die ouderdom van 83 jaar oorlede. Hy het sy vrou agtergelaat ná ’n getroude gelewe van amper 60 jaar, ’n dogter, vier seuns, 12 kleinkinders en 13 agterkleinkinders.
Galery
1899: Professore en studente van die Teologiese Skool. Voor: J. van der Linde, T.N. Venter, W. Viljoen, D. Kruger, A. du Toit, H. Kruger, A.P.C. Duvenage, Smit, Snyman. Middel: (van links) Ferdinand Postma, dr. Flippie Snyman, Jan Lion Cachet, Jacobus du Plessis, Willem de Klerk, Dirk Postma en Hendrikus Pasch. Agter: J. van der Heever, H.J.R. du Plessis, J.C. Venter, D.P. du Plessis, J.P. van der Walt, N. van der Walt, J.H. Kruger, J. Venter, P. Lion Cachet, N.H. van der Walt, C. Pretorius, J. van Rooy, Japie Maré, J. du Plooy, H. de Klerk, J. Kruger, D. Lessing.
1903: Professore en studente van die Gereformeerde Kerk se Teologiese Skool. Voor: H.J.J. van der Walt (eerste hoof van die driedelige onderwysinrigting op Steynsburg), I.D. Krüger, J.C. van der Walt, H.D. Lessing, H.J. van der Walt, F.J. Jooste, C. Riekert, J.J.A. Coetsee. Middel: H.J.R. du Plessis, T.N. Venter, N.H. van der Walt, prof. Jacobus du Plessis, prof. J. Lion Cachet, prof. dr. Flippie Snyman, D. Postma, A.P.C. Duvenage, H.P.J. Pasch. Agter: J. Kruger, J. Duvenage, D. Kruger, B.R. Grobler, J. Coetzee, P. du Plooy, A. Coetzee, P.W. Bingle.
Voor v.l.n.r. D.J. du Plessis, J.J.A. Coetsee, P. Coetzee, S. Vorster, J.H. Kruger, R.S. Postma. Middel: J.H. Boneschans, H.J.R. du Plessis, prof. Ferdinand Postma, prof. Jan Lion Cachet, prof. Dirk Postma, J.H. Kruger, T.N. Venter. Agter: H.J.J. van der Walt, J.C. van der Walt, B.J.M. Kruger, H.P.J. Pasch, J.P. van der Walt, D.P. du Plessis, B.R. Grobler, P.W. Bingle.
Afgevaardigdes na die Gereformeerde Kerk se Algemene Sinode te Reddersburg, 1910. Voor: J.A. van Rooy, Martinus Postma,Petrus Postma, W.J. Snyman, Jan Lion Cachet, Louw du Plessis, Louis Vorster, Pieter Biewenga. Middel: J.G.H. van der Walt, Jacobus du Plessis, Willem de Klerk, G.H.J. Kruger, Dirk Postma, H.J.R. du Plessis, Willem Postma, Hendrikus Pasch. Agter: J.P. van der Walt, N.H. van der Walt, T.N. Venter, dr. Flippie Snyman]], J.H. Kruger, J.D. du Toit, Sietse Los, T. Hamersma, Derk Rumpff.
Bronne
- (af) Faasen, Ansie. 2004. Gereformeerde kerk Bronkhorstspruit 1904–2004. Eeu-fees album. Eenhonderd jaar van wonderlike genade. Bronkhorstspruit: Gereformeerde kerkraad.