Folkert Wilko Hesse
Quick Facts
Biography
Folkert Wilko Hesse (Amsterdam, Nederland, 1 November 1855 – Kaapstad, 17 Desember 1923) was ’n Suid-Afrikaanse argitek van Nederlandse herkoms wat tydens die eerste kwart van die twintigste eeu verantwoordelik was vir die ontwerp van talle NG kerke.
Herkoms en opleiding
Hesse was die seun van Francois en Elisabeth Hesse (gebore Dekker). Hy het sy skoolopleiding in sy geboortestad ontvang. Daarna het hy die Kunsskool, ook in Amsterdam, bygewoon om argitektuur te studeer en, buiten sy teoretiese werk, het sy pa, wat ’n vervaardiger was, daarop aangedring dat hy ’n deeglike praktiese kennis opdoen van die ambagte van skrynwerk en messelary, waarsonder die beginsels van sy wetenskap moeiliker sou wees om toe te begryp en toe te pas. Daarom het hy drie jaar in ’n skrynwerkwinkel deurgebring en nog vier maande as klipmesselaar.
Hierna het Hesse as leerling aangesluit by ene G. Springer, wat ten opsigte van aansien en algemene uitnemendheid beskou is as die voorste argitek in Amsterdam. Hy het ses jaar in Springer se kantoor deurgebring en toe aangesluit by J.H. Shmitz, saam met wie hy vier jaar gewerk het. Teen dié tyd was Hesse self ’n bedrewe argitek. Sy eerste aanstelling was as boutekenaar en later as assistentargitek in die departement van spoorweë, waar hy ses jaar gebly het. In 1885, die jaar waarin hy met Anne Groenewald getroud is, het hy sy eie argiteksfirma in Amsterdam opgerig. In dié stadium het hoofsaaklik planne vir woonhuise ontwerp.
Immigrasie na Suid-Afrika
Hy en sy vrou, by wie hy twee kinders gehad het, het in 1901 of '02 na Suid-Afrika geïmmigreer waarna Hesse tot 1923 in Kaapstad gepraktiseer het. Hier het hy gou gevestig en bekend geraak onder die Afrikaans-Hollandse bevolking. Die grootste deel van sy werk het bestaan uit opdragte om NG kerkgeboue te ontwerp. Meermale het hy in vennootskap met R.M. Robertson gewerk. In 1909 het Hesse en sy seun Francois (1887-1957, begrawe in Brakpan), wat as slim en belowende leerling beskryf is, die vennootskap Hesse & Hesse begin en teen 1915 het hulle van 'n adres in die NG Kamers in Kaapstad gewerk.Omstreeks 1917 het Hesse dievoorlopige ontwerp vir die NG kerk op Warden opgestel, maar blykbaar is hy in 1922 deur Gerard Moerdijk vervang, waarskynlik weens swak gesondheid.
Hesse was lid van die Vereniging van Transvaalse Argitekte in 1915 en ’n genoot van die Kaapse Instituut van Argitekte.
Nalatenskap
Hy word veral onthou vir statige NG kerkontwerpe, soos dié van Kuilsrivier (1903), Vredenburg, Steytlerville (een van die grootste NG kerke in die land) en Hopefield.
Enkele ontwerpe
- NG kerk McGregor, 1904, Wes-Kaap
- NG kerk Steytlerville, 1906, Oos-Kaap
- NG kerk Vredenburg, 1904, Wes-Kaap
- NG kerk en pastorie, Kuilsrivier, 1903, Wes-Kaap
- NG kerk George (herbou van die toring), 1906, Wes-Kaap
- NG kerk Uniondale (herbou van toring), 1908, Wes-Kaap
- NG kerk Swellendam, 1910, Wes-Kaap
- NG kerk Merweville, 1914, Wes-Kaap
- NG kerk Riebeek-Kasteel, 1915, Wes-Kaap
- Graaff-Reinet se stadsaal, 1910, Oos-Kaap
- NG kerk Upington, ingewy 13 April 1912, Noord-Kaap
- NG kerk Warden, begin in 1918, hoeksteen 1920, bouwerk onderbreek, herbegin deur Gerard Moerdijk 1922, Vrystaat
- NG kerk Memel, 1925, Vrystaat (waarskynlik eerder sy seun Francois se werk)
- NG kerk Petrusville, 1925, Noord-Kaap (moontlik die werk van sy seun Francois Hesse, oorlede 25 Januarie 1956)
Geboue wat Hesse ontwerp het
Die NG kerk Merweville gesien tydens die honderdjarige viering van die inwyding daarvan op 30 April 2016.
Die Hopefieldse NG kerkgebou. Die sentrale deel daarvan is in 1877 opgerig en die toring en vleuels in 1911 volgens Hesse se ontwerp.
McGregor se NG kerkgebou is in 1904 opgerig.
Die NG kerk Kuilsrivier is op 29 November 1904 ingewy. Prof. N.J. Hofmeyr het die hoeksteen op 3 Maart 1904 gelê.
Die eerste pastorie van die NG gemeente Kuilsrivier, ontwerp deur Hesse en ingewy op 4 Oktober 1904. Dis omstreeks 1980 gesloop.
Die NG gemeente George se kerkgebou moes in 1906 deels herbou word nadat die kerktoring ineengestort het. Hesse het die plan vir die herbouing, wat 'n jaar of wat vantevore voltooi is, ontwerp.
Graaff-Reinet se stadsaal, opgerig in 1910.
Die NG gemeente Vredenburg se kerkgebou.
Steytlerville se NG kerk. Die hoeksteen is gelê op 5 Mei 1906. Dit bied sitplek aan 1 500 kerkgangers en is een van die grootste NG kerke in die land.
Syaansig van die NG kerk op Steytlerville.
Die kerkgebou van die NG moedergemeente op Swellendam, ontwerp deur Hesse en sy seun, Francois. Die hoeksteen is op 26 November 1910 gelê.
Die NG kerk Riebeek-Kasteel. Ds. Pieter de Waal het die hoeksteen gelê op 30 Oktober 1913.
Die NG kerk op Riebeek-Kasteel, afgeneem kort nadat dit voltooi is.
Die NG moederkerk op Upington is op 13 April 1912 ingewy.
Die NG kerk Warden, begin volgens Hesse se plan in 1920, die hoeksteen gelê in 1920, bouwerk onderbreek en voltooi deur Gerard Moerdijk. Die kerk is ingewy op 24 Mei 1924.
Die NG moederkerk op Upington, waarskynlik vroeg in die 20ste eeu.
Bronne
- (en) Besonderhede oor Hesse se lewe en werk op die argitektuurwebtuiste Artefacts.co.za. URL besoek op 12 Januarie 2015.
- (af) Olivier, ds. P.L. (samesteller). 1952. Ons gemeentelike feesalbum. Kaapstad en Pretoria: N.G. Kerk-uitgewers.
Verwysings
- ↑ Die Genealogiese Vereniging se begraafplaasversameling. URL besoek op 12 Januarie 2015.