Biography
Gallery (5)
Lists
Also Viewed
Quick Facts
Family |
|
Biography
Prof. dr. Barend Jacobus de Klerk (Burgersdorp, Kaapkolonie, 22 Augustus 1904 – Potchefstroom, Suid-Afrika, 21 April 1953) was predikant in vier gemeentes van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika en hoogleraar aan dieselfde kerkgenootskap se Teologiese Skool op Potchefstroom.
Herkoms en opleiding
De Klerk was die seun van Jacobus Johannes de Klerk en Anna Susanna Labuscagne. In 1930 voltooi hy sy studie aan die Teologiese Skool en PUK, waar hy agtereenvolgens die grade B.A., M.A. en B.D. behaal het en in sy kandidaatseksamen geslaag het. In 1935 vertrek hy met sy gesin na Nederland, waar hy aan die Vrije Universiteit onder prof. V. Hepp studeer en in 1937 die doktorsgraad behaal met ’n proefskrif oor “Vorme en karakter van die Biblisisme”.
Gemeentebediening
As predikant het hy agtereenvolgens die volgende gemeentes bedien: Dordrecht, Indwe en Maclear (1931–1939), Middelburg, Kaap, (1939–1944), Kroonstad, Theunissen en Odendaalsrust (1944–1945) en Bloemfontein (1945–1952).
Hoogleraar
Vanaf April 1952 het hy gedien as professor aan die Teologiese Skool in apologetiek en Christelike etiek tot by sy oorlyde op 21 April 1953. Hy het in verskillende deputategroepe gedien en was etlike jare raadslid van die PUK vir CHO. Die belange van land en volk het hom na aan die hart gelê. Hy het onder meer gedien in die sentrale komitee vir die reëling van die Van Riebeeck-fees. Hy het ook lewendig belanggestel in die onderwys, en onder andere was hy voorsitter van die Bloemfonteinse Skoolraad.
Huwelikslewe
In 1931 is hy getroud met Irene Bouman. Uit die huwelik is twee seuns en ’n dogter gebore. Ná haar oorlyde tree hy in 1944 in die huwelik met Maria (Marietjie) van der Walt van Middelburg, Kaap. Uit die huwelik is ook twee seuns en ’n dogter, Mathilda (getroude van Van der Schyff) gebore. Drie van die seuns het ook predikant geword:
- Pieter Bouman (Bouwie) de Klerk, tussen 1957 en sy aftrede in 1998 agtereenvolgens leraar van Aliwal-Noord, Noord-Durban/Empangeni, Noord-Durban, Koedoesrand en Stilfontein. Hy is oorlede op 9 April 2015.
- Jacobus Johannes (Kosie) de Klerk, tussen 1968 en sy aftrede in 1998 agtereenvolgens leraar van Theunissen, De Aar en Boksburg-Suid. Hy is oorlede op 17 Junie 2001. Sy weduwee is Annatjie de Klerk.
- Dr. Barend Jacobus (Ben) de Klerk, tussen 1970 en 1997 agtereenvolgens leraar van Gobabis, Cachet, Randburg-Oos en Potchefstroom-Noord. Intussen was hy van 1981 tot 1984 direkteur van die PU vir CHO se studenteburo en eindelik van 1998 tot sy aftrede in 2010 professor aan die Teologiese Skool in Potchefstroom.
Uit prof. dr. De Klerk se pen het verskyn: Meetsnoere van die jeug, Die Roomse gevaar en Vorme en karakter van die Biblisisme.
Bron
- (af) Van der Vyver, dr. G.C.P. 1969. My erfenis is vir my mooi. Potchefstroom: Calvyn Jubileum Boekefonds.